Home | Pinzgauer | PinZ²yl | Santa Gertrudis | Nguni | Commercial Cattle | Random Gallery

Commercial Cattle Print, e-mail or create a PDF from this page

Die speenkalfresep werk

Soos gepubliseer in die Landbouweekblad uitgawe : 2011/05/06

http://152.111.1.45/argief/berigte/landbouweekblad/2011/05/06/LB/16/01.html

Andries Gouws

Die ideale kombinasie in ’n kruisteeltstelsel met beeste van verskillende rasse is dié een wat in spesifieke toestande die meeste en beste vleis produseer vir die bemarkingstelsel wat gebruik word.
Die kombinasie van Pinzgauer-, Santa Gertrudis- en Brahmanbeeste is vir hulle die ideale kombinasie, sê mnr. Paul Bester, bestuurder van die kommersiële beeskudde van die bekende Bertie van Zyl-boerdery by Mooketsi.
Eers nadat hy 14 verskillende beesrasse getoets het, het hy die kombinasie gevind wat die beste presteer in die spesifieke toestande waarin dié kudde aangehou word. Bester sê dié diere is nommerpas om die natuurlike weiding te benut, asook die tamatie- en uielande wat in ’n natuurboerderystelsel gemiddeld vier jaar lank rus en deur gras ingeneem is.
Die kombinasie van rasse lewer speenkalwers wat swaarder is as die gewilde gewig wat voerkrale verkies, maar hul uitstekende groeivermoë en goeie karkaseienskappe maak hulle só gesog dat ’n premieprys vir dié diere betaal word.
Naas die kommersiële kudde van nagenoeg 4 000 koeie bedryf hulle twee Pinzgauer- en ’n Santa Gertrudis-stoetery. Die ZZ2- en Grootboomstoetery bestaan uit sowat 300 Pinzgauerteelkoeie elk en die ZZ2-Santa Gertrudis-stoetery uit 250 teelkoeie. Die stoeterye voorsien onder meer teeldiere vir die kruisteeltstelsel en Brahmanbulle word aangekoop.
Aanvanklik is rasegte Pinzgauers én ras-egte beeste van ander rasse gebruik. In dié proses is 14 rasse beproef om die regte kombinasie te vind.
“Ek respekteer elke beesras en diskrimineer teen geeneen nie, maar in ons toestande werk dié kombinasie die beste,” sê Bester. “Ons gebruik Santa Gertrudis-bulle op Pinzgauerkoeie en dan Brahmanbulle op daardie kruiskoeie.
Waar kruiskalwers sterk na die Brahmankant neig, gebruik ons Santa Gertrudis- of Pinzgauerbulle om dit reg te stel.”
Hulle teel al hul vervangingsverse self omdat hulle glo dat hulle só die melkeienskappe van die vroulike diere behou wat deur die Pinzgauers gevestig is. Dié ras sorg ook vir uitstekende vetmarmering in die vleis.
Die Santa Gertrudis sorg vir die aanpasbaarheid in voerkrale en die goeie voeromsettingsverhouding, en die Brahmane voeg die gehardheid by wat noodsaaklik is vir beeste in dié omgewing. Dit sorg alles saam vir speenkalwers wat gesog is by voerkraaleienaars omdat hulle puik karkasse lewer.
Van die diere is verlede jaar vir die eerste keer by ’n streekkarkaskompetisie ingeskryf, en met die eerste probeerslag het hulle die reserwekampioen-karkas vertoon.
Die Pinzgauer was oorspronklik ’n dubbeldoelras. Dié ras is veral in Suid-Afrika deur nougesette seleksie en met groot klem op vleiseienskappe deur Bester in ’n vleisbeesras omskep, sonder dat die melkeienskappe verlore gegaan het. Dié ras staan deesdae sy man op skoue teen die beste vleisbeesrasse in die land.
“Ek glo melk maak vleis. Om ’n goeie speenkalf te lewer, moet ’n koei melk hê,” sê hy.
Dit, tesame met die basterkrag, gee op die eerste nageslag van die kruisteeltstelsel swaarder speenkalwers en sorg ook vir goeie groei daarna.
Die speenkalwers wat hulle só produseer, weeg van 260 kg tot 280 kg op 220 dae, terwyl algemeen aanvaar word dat ’n speenkalf van 200 kg tot 220 kg vir voerkrale verkieslik is.
Aanvanklik is besluit dat die swaarder kalwers ’n beter wins sou oplewer al is die prys wat hulle kry effens laer. Maar wat intussen gebeur het, is dat die voerkrale nie teen die swaarder kalwers diskrimineer nie en hulle ’n beter prys as die gemiddelde speenkalfprys realiseer.
Dít skryf Bester hoofsaaklik daaraan toe dat die speenkalwers vinniger groei en voer spaarsamig gebruik om gewig aan te sit. Dit is danksy die goeie voeromsettingsverhouding waarvoor die Santa Gertrudis sorg.
Aanvanklik is Santa Gertrudis-bulle ook gekoop, maar mettertyd is daar met ’n stoetery begin en is van die beste bulle wat in die land beskikbaar geraak het, aangeskaf.
Die mediumraam-koeie het genoeg melk om ’n swaar kalf te speen en daarby groei die kalwers ook goed ná speentyd.
Daar is boere wat glo ’n mens kan jou koeikudde stief behandel en só geld spaar. Bester sê egter hy sorg goed vir sy koeie deur genoeg uitstekende weiding aan hulle beskikbaar te stel en lek te gee as dit nodig is. In die hele proses word aangepaste diere geselekteer wat hul kondisie in dié toestande kan behou.
Die drakrag van die natuurlike weiding is een grootvee-eenheid (GVE) op tien hektaar, maar op die rustende lande wat goed bemes was, is die drakrag gemiddeld een GVE op vier hektaar. Deur die winter tot met die eerste reën kry die diere ’n proteïen-onderhoudslek.
Bester sê hy streef daarna om diere te produseer wat aan die behoeftes van die voerkrale voldoen. Sy mikpunt is om ’n premie van 5% (van 70 sent tot R1 per kg) bo die gemiddelde speenkalfpryse te behaal. Daarby mik hy na ’n kalfpersentasie van 90 en ’n speenpersentasie van 85.
In die proses probeer hy om ’n volhoubare ekstensiewe beesboerdery in sinergie met die akkerbouboerdery in ’n natuurlike stelsel te bedryf.
Die 4 000 koeie loop in troppe van 75 tot 100 eenvormige diere en ’n bestuurder en vier werkers hanteer elkeen sowat 1 000 koeie wat hulle elke week sien, kraal toe bring en dip. Sowat 40% van die koeie kan as Santa Gertrudis-tipes beskryf word en sowat 30% elk as Brahman- en Pinzgauer- tipes. Van die Santa-koeie word suiwer gehou om die stoetery uit te brei.
Hulle gebruik twee dektye. Sowat twee derdes van die koeie kom van begin Januarie tot middel Maart vir 72 dae by die bulle en die res van Julie tot Augustus vir 60 dae.
Met die winterdektyd is die gewig van die speenkalwers effens laer, maar die voordele van verspreide bemarking en die ekonomieser aanwending van bulle vergoed ruimskoots daarvoor. Een bul per 25 koeie word gebruik.
Die somerdektyd se kalwers word teen die middel van Julie gespeen en aan die einde van Julie op ’n veiling verkoop. Hul boekjaar eindig op 30 Junie, en met dié stelsel het Bester dadelik geld in sy begroting om met die boerdery aan te gaan.
Die volgende lot kalwers word in Januarie gespeen en word dan ook op ’n veiling aangebied. Op elke veiling word verse, dragtige verse en uitskotkoeie aangebied. Stoetdiere word op ’n produksieveiling in Oktober verkoop.
As die kalwers sowat vyf maande oud is, word die koeikuddes verdeel sodat koeie met bulkalwers en koeie met verskalwers afsonderlik loop.
Hierdie kalwers word gespeen ’n dag voor die veiling waarop hulle aangebied word. Die bulkalwers word verkoop en gaan die volgende dag op die kopers se vragmotors wat hulle wegry.
Die verskalwers word dan geselekteer en dié wat gehou word, kry vir sowat tien dae hooi en gaan dan veld toe. Die beweidingstelsel, kampgrootte en -benutting word grootliks aangepas by die plantprogram van die akkerbouvertakking van die boerdery. Die landerye is in eenhede omhein en die grootte van die kuddes word daarby aangepas wanneer die lande rus.
Hulle pas drukbeweiding toe op die tamatie- en uielande wat rus om aanplantings daarop te vergemaklik. Dit vereis nougesette beplanning om met die weiding deur te kom.
Die beesboerdery en veral die kombinasie van rasse pas egter uitstekend in by die totale boerderyonderneming en voeg waarde toe deurdat lande wat onproduktief sou moes rus, nou goed benut word sonder om op die akkerbouprogram inbreuk te maak.

Kategorie: Grootvee/kruisteel

Bladsy 16 - 18

Kleurfoto's



Home | Pinzgauer | PinZ²yl | Santa Gertrudis | Nguni | Commercial Cattle | Random Gallery
Bertie van Zyl (Edms) Bpk © 2013
These pages were developed and are being maintained by
The South African Stud Book and Livestock Improvement Association