|
Deur ProAgri personeel-skrywer Datum: 2008-04-01 | soos gepubliseer in die Pro Agri tydskrif 2008-04-01|
http://www.proagri.co.za/genetika/beeste/Pinzgauers-groei-deur-samewerking.html
Die Pinzgauer is ’n pragtige bees, met goeie vleiseienskappe en uitstekende speenkalfproduksie.
Dit kán verklaar waarom die ras oor die laaste klompie jare so ’n geweldige opgang in die stoetteelbedryf gemaak het. Maar dit vertel nie die volle verhaal nie.
Die verskil lê by die mense wat met Pinzgauers boer.
Hoeveel rasgenootskappe kan daarmee spog dat die telers gereeld om ’n ronde tafel gaan sit en vir mekaar vra: “Wat kan ons doen tot die grootste voordeel van ons ras?”
Die vrug wat hierdie bespre¬king opgelewer het, is duidelik te sien in die dinamiese groei van die Pinzgauerras in Suid-Afrika.
Van 2006 tot 2007 het die aantal stoet¬diere met 40% toegeneem en die jaar is afgesluit met 24 stoettelers teenoor 2002 se 7 telers.

Draaipunt
Lede van die telersgenootskap stem saam dat die draaipunt gekom het toe Paul Bester, die kuddebe¬stuurder van ZZ2, twee jaar gelede besluit het om hulle Pinzgauer-kudde oop te gooi en goeie genetiese materiaal beskikbaar te stel.
Jong telers het die geleentheid aangegryp en met die gebruik van tegnologie en sakevernuf nuwe momentum aan die Pinzgauer-genootskap gegee.
Van die telers wat al jare met Pinzgauers doenig is, praat met groot lof van die “jong bloed” wat nou ingekom het.
Dit is nogal veelseggend dat die Pinzgauer, wat sy wortels tot in die 1600’s kan terug¬voer en deur Paul Bester beskryf word as “die oudste suiwer ras in die wêreld”, soveel aanklank by jong boere vind.
Nico Steyn van Guldenvrug-stoet, oos van Pretoria, sê reguit: “Ek het uit die sakewêreld oorgeskakel na beesboer¬dery. Ek het klinies na die saak gaan kyk en van my hoof seleksiekriteria het gegaan rondom die finansiële lewensvatbaarheid van die ras, die beskikbaar¬heid van top genetika, bekostigbaarheid, finansiële opbrengs en ’n beesras wat gevestig en aangepas is in Suid-Afrika.
“Ek het verskeie rasse ondersoek en oorweeg en by die Pinzgauer het ek al die nodige antwoorde gekry wat aan my seleksiekriteria voldoen.
“Wat vir my opmerklik was, was die groeipotensiaal van die ras. Die feit dat daar in daardie stadium net ’n handvol telers was, het ek as ’n groeigeleentheid gesien.
“Hier was ’n goed aangepaste ras met top beskikbare genetika, sekerlik die beste van sy soort in die wêreld, op ’n sinvolle ekonomiese platform. Ek is ingelaat in die ‘ou manne’ se teelkuddes en kan my hande op die beste Pinzgauer-genetika lê wat oor die laaste 100 jaar se stoetteling uit Namibië en Suid-Afrika opgebou is.”
Beste genetika
Hy het ook gou betrokke geraak by die maatskappy, G4 Genetika, wat binne die Genootskap daarin slaag om die beste genetika te vind en beskikbaar te stel.
G4 verskaf embrios van die beste elite-Pinzgauerkoeie, bevrug met saad van net die beste Pinzgauerbulle.
Semen van bulle, soos die staatmakervaar, Big Brother, is ook beskikbaar.

Bou kudde met embrios
G4 het dit reeds vir nuwe te¬lers moontlik gemaak om kuddes uit uitsluitlik embrio-kalwers op die been te bring. Dit stel dié telers in staat om binne een geslag ’n kernteelkudde te vestig wat uit die beste beskikbare genetika bestaan.
Voeromset
’n Man wat nou al lank verlief is op Pinzgauers en naas ZZ2 die oudste kudde in die land het, is Giepie Rossouw van Bothaville. Rossgevonden Pinzgauers het in 1990 ontstaan toe Giepie ’n bees gesoek het met uitstekende voeromset en aanpasbaarheid. Die Pinzgauer het aan al sy ver¬eistes voldoen.
Hy sê hy wou al jare terug begin het met embriospoeling, maar kon nie die projek alleen behartig nie. Nou het hy al goed gebruik gemaak van die Pinzgauers se embrio¬stasie.
Giepie is baie opgewonde oor die koers wat die ras in¬slaan. “In die verlede moes ek al goeie teeldiere slag omdat ek net nie genoeg plek op die plaas het nie. Nou verkoop ek elke jaar al my bulle en ons kan nie eintlik voorbly met teelmateriaal nie,” sê hy.
Hy moedig veral nuwe te¬lers aan om vanjaar by die Pinzgauer-uitstalling by Nampo te stop. Sy raskampioenkoei met haar kalf gaan onder andere daar uitgestal word, asook twee ander koeie wat hy nou vir embrio¬spoeling beskikbaar stel.
Kom kyk by Nampo
Die Pinzgauer-telersgenootskap is van plan om vanjaar Nampo-gangers se voete onder hulle uit te slaan met al hulle goeie aanbiedings.
Een kyk na die raskampioenbul of die pragtige rooibruin en wit embrio-kalwers is al genoeg om enige beesboer se aandag te trek, maar op die ou end is dit die syfers en feite wat saamgaan plaas toe, soos:
Wins wat gewaarborg word deur:
- Voortreflike voeromset: Presteer die beste in die LNR se Fase C-groeitoetse van 2007 met ’n voeromset van 5,37 kg/g. Die nasionale gemiddeld was 6,01 kg/g. GDT: Pinzgauer behaal 2012g teenoor 1750g van die nasionale gemiddeld.
- Hoë vrugbaarheid: Far¬mers Weekly koei van die jaar (10 kalwers op 11,5 jaar)
- Gemiddelde daaglikse gewigstoename van tot meer as 3kg
- Dubbeldoelras: Hoë melkproduksie ideaal vir speenkalwers en kruiste¬ling
- Gesogte vleisgehalte: Sag en met goeie marme¬ring
- Goeie temperament: Hanteer met minimum arbeid
- Gehard: Presteer goed op die veld
- Aanpasbaar: Aard enige plek in Suid-Afrika
Al hierdie goeie eienskappe kan ’n voornemende teler dalk laat wonder oor die koste om nou in te klim.
Nou is die tyd
“Daar is nie ’n beter tyd nie,” sê Mitch van den Bos van G4 Genetika. Die pryse van Pinzgauer-teeldiere en -speenkal¬wers is beslis besig om opwaarts te beur, maar die beleid bly steeds dat goeie genetika binne die bereik van gewone boere moet bly.
Hy self het in 2003 die eerste keer met Pinzgauers kennis gemaak en het al ’n slag in Oostenryk gaan draai op soek na goeie genetiese materiaal.
Die kennis wat hy daar opgedoen het, word vandag met groot vrug deur G4 gebruik.
Koning in kruisteelt
Daar is ’n rede waarom ZZ2 die grootste Pinzgauer-stoetery ter wêreld het.
Die diere het bewys dat hulle hulleself kan handhaaf deur die hoogste moontlike aantal kilogram vleis per hektaar te produseer teen die laagste moontlike koste.
En dit doen hulle selfs in die harde Bosveldwêreld van Mooketsi.
Dit is dus geen wonder dat Paul Bester sy Pinzgauers op groot skaal gebruik vir kruisteling met ander rasse soos Brahman, Santa Getrudis, Bonsmara, Beefmaster en Simbra nie. Hierdie program word spesifiek gevolg vir speenkalf¬produksie vir die voerkraalbedryf.
Callie Barnard (vorige president van die Pinzgauertelersgenootskap) van Winterveld Pinzgauers noord van Pretoria is nog ’n man wat nie uitgepraat kan raak oor die goeie voerkraalpotensiaal van Pinzgauers nie.
Hy gebruik sy stoetkudde om veral die voeromset en die GDT van sy kommersiële diere te verbeter.
Hy maak ook baie staat op die gehardheid en aanpasbaarheid van sy Pinzgauers: “Ek is nie elke dag op die plaas nie en kan nie bekostig om stoetdiere aan te hou wat pieperig is nie,” sê hy.
Callie het ook al saad en embrios van Oostenryk af ingevoer en is baie opgewonde oor die genetiese vordering wat die ras die afgelope drie jaar gemaak het.
Genetiese uitbreiding
Met ’n opgetekende geskie¬denis van oor die 400 jaar, is dit te verstane dat Pinzgauers redelik wyd oor die wêreld versprei het.
Die genetika wat in Suid-Afri¬ka gebruik is, het hoofsaaklik van Oostenryk af gekom, waar Pinzgauers nie net vir vleis nie, maar ook vir melkproduksie gebruik word. Vandag nog word semen van Oostenryk af ingevoer.
’n Belangrike nuwe toevoe¬ging tot ons genepoel het egter nie oor die waters gekom nie, maar sommer van ’n buurland af. ZZ2 het onlangs Gootboom, die top Pinzgauer-kudde van Namibië, uitgekoop.
Paul Bester sê die nuwe bloedlyne wat daardeur beskikbaar gestel word, kan as ’n groot deurbraak beskou word.
Die Amerikaners raak ook al hoe meer gaande oor die voordele van Pinzgauers. ’n Artikel in die tydskrif, Cattle Today, besing die sagtheid van die vleis en die goeie vetverspreiding (marmering).
Die vrugbaarheid van die koeie word hoog aangeslaan en natuurlik, soos alle Suid-Afrikaanse Pinzgauerboere weet: “That translates into healthy calves that show excellent weight per day of age.”
Australië se boere het natuur¬lik ook altyd ’n oog vir ’n goeie dier en G4 Genetika het nou begin om embrios na dié land uit te voer.
Daar word ook gepraat oor die verstewiging van bande met Kanada se Pinzgauerboere.
Pinzgauer op die wenpad
In die geval van Pinzgauers is die kortpad ook die beste pad en hoewel nuwe idees altyd in dié dinamiese genootskap welkom is, is dit nie nodig vir elkeen om op sy eie die wiel weer uit te vind nie.
Stoetboere wat wil geld maak en steeds geniet wat hulle doen, moenie by Nampo by die Pinzgauers verby loop nie...
Boere wat belangstel om meer oor Pinzgauers uit te vind kan gerus die volgende lede van die Pinzgauertelers¬vereniging skakel:
Paul Bester by 083-627-6899 of e-pos by grootboom@zz2.biz |